Wie is ons

WIE IS VONKK?

Die akroniem VONKK staan vir Voortgesette Ontwikkeling van Nuwe Klassieke Kerkmusiek.

VONKK was vroeër deel van ADGO (Algemene Sinode se Diensgroep vir Gemeente Ontwikkeling) se Projekspan vir Musiek wat voortdurend nuwe en ook inheemse kerkmusiek moet skep en versamel. Alhoewel die Liedboek wat in 2001 verskyn het ’n wonderlike skat van klassieke en meer eietydse klassieke kerkliedere bevat, weet ons dat klassieke kerkmusiek in die moderne eeu waarin ons leef nog steeds ontwikkel. Dit sien ons ook wêreldwyd. Dit is ook hoekom die Algemene Sinode van 2007 dit goedgekeur het dat die proses van voortdurende versameling, skep en keuring van klassieke kerkliedere steeds moet voortgaan.  Alhoewel VONKK ’n inisiatief was van die NG Kerk, is die Nederduitsch Hevormde Kerk die afgelope paar jaar as medewerkers by die proses betrokke en vanaf 2016 as volwaardige vennote van VONKK.

VONKK SE WERKSAAMHEDE EN PROJEKTE

In die lig van die opdrag van die Algemene Sinode aan VONKK naamlik om ’n meganisme te skep waarvolgens nuwe eietydse en ook inheemse klassieke kerkmusiek deurlopend in die kerk opgeneem kan word, het VONKK vir onsself die volgende projekte waardeur ons vir gemeentes van hulp kan wees, geïdentifiseer:

  • die skep en versamel van nuwe klassieke kerkliedere en vir gemeentesang
  • die skep en versameling van meditatiewe liedere en multikulturele vir gemeentesang
  • die skep en versameling van kantorymusiek en -verwerkings
  • die skep en versameling van nuwe klassieke liturgiese musiek

Hier is meer detail in verband met die inhoud van die verskillende projekte:

1. DIE SKEP EN VERSAMELING VAN NUWE KLASSIEKE KERKLIEDERE VIR GEMEENTESANG
VONKK verstaan dit as beide die byeenbring van bestaande liedere wat wêreldwyd deur gemeentes gesing word, asook nuwe komposisies. Op hierdie terrein wil VONKK graag aandag gee aan kerkliedere wat die volle spektrum van God se Raad en van die erediens sou dek, sowel as al die aspekte van die kerklike jaar en die erediens van die lewe. Daarmee saam wil ons ook aandag gee aan die behoeftes van die verskillende spiritualiteitsgroeperings in gemeentes en liedere skep en versamel wat die verskillende verskillende spiritualiteitstipes sal aanspreek.
Binne hierdie terrein van die skep en versameling van klassieke kerkliedere fokus VONKK veral op die volgende:

• Nuwe komposisies en bestaande liedere
VONKK versamel nuwe komposisies en bestaande liedere vir die erediens, kerklike jaar en die erediens van die lewe in Afrikaans.  VONKK ontvang graag totaal nuwe skeppings van melodie en teks, of ook slegs nuwe melodieskeppings of teksskeppings.  Nadat hierdie laasgenoemde skeppings goedgekeur is, sal VONKK poog om ‘n teks of melodie vir die skepping te vind.
VONKK wil graag ook bestaande liedere wat in ander tale van die wêreld gesing word en wat liturgies vir ons funksioneel is, met ‘n eietydse Afrikaanse teks aan gemeentes beskikbaar stel.  Vertalings in Afrikaans moet volgens die internasionale kopieregvereistes, so na as moontlik aan die oorspronklike teks wees – dit wil sê ‘n letterlike vertaling wees.

• Nuwe psalms
Onder die versameling van klassieke liedere, wil ons graag aan veral ook die psalms aandag gee.  Ons glo dat ’n kerk wat nie psalms sing nie, is arm.  Na goeie navorsing, besef VONKK dat die strofiese omdigtings van die psalms met die Geneefse melodieë soos wat dit in die Liedboek voorkom, nie regtig byval by gemeentes vind nie.  Daarom werk ons eerder aan kortvorm psalms wat die inhoud/boodskap van die psalm in ’n korter vorm met ’n eenvoudiger en makliker singbare melodie weergee.

KORTVORM PSALMS
1. Waarom kortvorm psalms?
Tydens 2007 is daar ‘n empiriese studie in die NG Kerk geloods oor die gebruiksfrekwensie en die funksionaliteit van die psalms. Uit die oorweldigende, positiewe respons wat verkry is, het dit geblyk dat die vorm en styl van kortvorm psalms tans die mees bruikbare, eietydse formaat vir liturgiese psalms is. 
2. Kritiek teen die huidige formaat en benadering by die psalms
Uit die vraelyste is onder andere die volgende kritiek teen die formaat en benadering wat by die psalms in die Liedboek aangewend is, gelug:
• Die lengte van die meeste psalms maak dit onmoontlik om dit volledig te sing. Daar bestaan ‘n behoefte aan kort en kragtige psalms.
• Klagtes is ge-opper dat die psalmomdigtings slegs die inhoud van die Skriftekste probeer weergee, en dan nie sinvol is nie of die “ware betekenis” mis. 
• Kultuur- en ideologies-vreemde uitdrukkings en idiomatiek is gekritiseer – veral die beklemtoning van sekere temas soos ”dele en temas waaroor mens nie kan sing nie“ wat ”veroordelend en selfgesentreerdheid“ of ”wreedheid, oorlog, wraaksug, onverdraagsaamheid“, onsensitiwiteit en verwaandheid“ beklemtoon.
3. Verskillende metodes om kortvorm psalms te benadering:
• Opsommend – kort stelwyses en gelaaide woorde, byvoorbeeld een strofe per perikoop. Waar die essensie van elke perikoop en die psalm as geheel uitgelig word.
• Selekteer een of meer perikope as die teks vir ‘n omdigting
• Selekteer ‘n paar verse uit ‘n Bybelteks van ‘n psalm wat ‘n eenheid vorm vir die omdigting – sonder om die geheel van die psalm uit die oog te verloor.
• Gebruik een kernvers of kernfrase uit ‘n psalm en omdig dit in ‘n koortjievorm of as ‘n liturgiese respons.
• Selekteer ‘n uitstaande tema uit ‘n psalm en omdig die verse in die psalm wat daarop lig werp, terwyl die geheelboodskap van die psalm in gedagte gehou word, byvoorbeeld:
    * emosies soos liefde, dankbaarheid, vertroue, afhanklikeid van God, eensaamheid, moedeloosheid, onveiligheid, onsekerheid;
    * behoeftes of probleme soos verskillende klagtes, onregverdige behandeling,
       siekte, ouderdom, dood, misdaad, natuurrampe;
    * liturgiese elemente soos aanbidding, lof, sondebelydenis, smeking, die behoefte
       aan God se Woord, geloofsuiting, dankbetuiging, toewyding, bereidwilligheid tot
       gehoorsaamheid.

2. DIE SKEP EN VERSAMELING VAN NUWE LIEDERE MET ‘N SPESIFIEKE LITURGIESE FUNKSIE

• Meditatiewe liedere en musiek
VONKK wil nuutgekomponeerde en bestaande meditatiewe liedere versamel en ook liedere in die bestaande korpus van liedere wat as meditatiewe liedere kan funksioneer, identifiseer.
Wat is meditatiewe liedere?  Meditatiewe liedere is dié soort liedere wat gesing word in meditatiewe dienste/adoramusdienste. Sommige van hierdie liedere kan ook met vrug gebruik word in stiller oomblikke van klassiek dienste of as response.  ‘n Meditatiewe lied help mense om tot stilstand te kom voor God.
• Multikulturele liedere
Multikulturele eredienste bied die besondere geleentheid vir verskillende kerkgenootskappe, en veral dan taalgroepe, om saam te aanbid. By so ‘n samekoms is dit veral die samesang wat die gelowiges saambind en inspireer. Daarom is dit nodig en sinvol om enkele liedere in ander tale beskikbaar te stel wat dan met groot vrug by sulke gesamenlike byeenkomste (eredienste) gebruik kan word. Hier word veral gedink aan inheemse Suider-Afrikaanse swart tale (met ‘n doelmatige vertaling in Afrikaans en Engels), bekende Engelse, Duitse en Nederlandse tekste saam met die Afrikaanse weergawe, en selfs Latyn wanneer die lied wel ook ekumenies internasionaal gesing word. Die groot skat van inheemse liedere in swart tale in ons land bied die geleentheid tot sinvolle ontginning.

3. DIE SKEP EN VERSAMELING VAN KANTORYMUSIEK
VONKK wil graag deur middel van kantorymusiek bydra tot die sinvolheid van die erediens.  Vir VONKK is die volgende uitgangpunt met betrekking tot die kantory belangrik:
Die liturgiese aanwending van die Kantory:
Die benaming:
Die woord kantory is afgelei van kantor. Die kantor se hooftaak is om die gemeentesang te dien. In sommige denominasies tree die kantor ook as liturg op. Die liturg se hooftaak is om die liturgie te lei en te laat vlot. ‘n Kantory is ‘n groep mense wat namens die kantor of die liturg kan optree om die  gemeentesang te dien en die liturgie te laat vlot.
Definisie:
‘n Kantory is ‘n liturgiese sanggroep wat as verlengstuk van die kantor, die gemeentesang lei. Dit kan ook saam of namens die liturg die liturgie laat vloei.
Liturgiese funksionaliteit:
Wanneer dit as verlengstuk van die kantor, saam met die gemeente of namens die gemeente funksioneer, is dit gewoonlik in die vorm van ‘n gebed. Wanneer dit saam met die liturg of namens die liturg optree, het dit gewoonlik ‘n verkondigende taak.

Die kantory help om die liturgie te laat vlot deur:
1. die gemeentesang te dien en ondersteun;
2. gemeente te help lei tot die realisering van kommunikasie met God.
Spesifieke funksies:
Ondersteuning van die gemeentesang deur:
• leidinggewend by die aanleer van nuwe liedere op te tree;
• ondersteunend saam te sing wanneer liedere minder bekend is;
• leiding te gee deur hartlik saam te sing met die gemeente;
• die saamsing van ‘n deskant of harmonieë;
• deur soms die gemeente vierstemmig te lei/begelei byvoorbeeld by Taizé-liedere.
• Wisselsang met die gemeente deur strofes afwisselend met die gemeentesang te sing. Hier kan hulle help om die teksinhoud tuis te bring deur die skep van atmosfeer en te vertolk;
• by herhalings – om stygende dinamiese vlakke of eggo-effekte te skep;
• antifoniese sang by strofe-en-refrein liedere waar die kantory die strofes sing (een- of meerstemmig) terwyl die gemeente die keervers sing;
• die by die aanvang van ‘n lied een of twee reëls as inleiding te sing en daardeur die aandag op die teksinhoud te plaas deur die vertolking en die skep van atmosfeer byvoorbeeld by ‘n loflied of boetelied.
• Die lewer van liturgiese bydraes as deel van die liturgiese dialoog: namens die gemeente of om die gemeente te lei deur:  
• die sing van gebede bv. die votum of as epiklese gebed (gebed by die opening van die Woord);
• by die liturgiese dialoog leiding te neem wanneer die liturg en die gemeente in gesproke of gesonge vorm in gesprek tree;
• liturgiese response as deel van die hoofgebed te lewer, bv. in navolging van die litanie ‘n aangepaste verwoording van die Kyrie eleison te sing of te spreek;
• by liturgiese response tydens die Skriflesing of die preek byvoorbeeld deur ‘n gesonge of gesproke Halleluja of Amen voor te gaan;
• ‘n selfstandige liturgiese element byvoorbeeld die sing van die Kyrie eleison as boetedoening tydens of na die lees van die wet of ‘n gesonge geloofsbelydenis tot die erediens by te dra;
• aansluitend by sommige liturgiese elemente te sing byvoorbeeld as uitdrukking van vreugde na die vryspraak, of as aktualisering van die geloofsbelydenis na die geloofsbelydenis, tydens die offergawe – om die betekenis van die offer te beklemtoon of aansluitend by die preek as preeklied of aansluitend by die uitsending as ‘amen’.
• Namens of aansluitend by die liturg by sekere elemente op te tree deur:
• die sing van die seëngroet;
• deur die wet te sing;
• die vryspraak te sing;
• ‘n lied te sing wat ‘n verkondigende funksie het – gedurende of aanlsuitend tot die Skriflesing of die preek;
• die sing van die seën as deel van die uitsending.
• By spesiale momente in die kerkjaar, bv. by fees- of sangdienste kan die kantory bydra tot die feestelike oordra van die boodskap deur die sing van ‘n lied wat die erediens kan verryk.

4. DIE SKEP EN VERSAMELING VAN LITURGIESE MUSIEK VIR DIE EREDIENS
VONKK wil graag verrykende liturgiese musiek vir klassieke instrumente soos bv. die orrel, klavier, fluite, viole vir die eredienste skep en versamel.  Onder liturgiese musiek verstaan ons solo-komposisies vir orrel en/of ander klassieke instrumente wat as voor-, tussen- of naspel of as aanvullende musiek tot sekere liturgiese momente in die erediens gebruik kan word.
Ook verwerkings gebaseer op Liedboek-, FLAM- of VONKK-liedere wat as voor-, tussen- of naspele en ‘n positiewe bydrae lewer tot die erediens kan lewer word as liturgiese musiek beskou. Makliker verwerkings word verkies, maar werke wat groter tegniese vaardigheid vereis, word nie uitgesluit nie.